3 maniere om jou gesin in jou goeie gewoontes te betrek

Geen gesonde dieet- of leefstylverandering is volhoubaar sonder harde werk en ’n groot kopskuif nie. Maar hoe gemaak as jóú kop reg is en die mense om jou s’n nie?

Toe Suret van @aliveandbalanced onlangs op Instagram oor verandering gesels, het ek geweet: Hierdie is iets waaroor ek lang stukke kan skryf. Suret is ’n persoonlike afrigter en stylkonsultant (besoek gerus haar webblad). Sy werk gereeld met kliënte wat groot transformasies ondergaan of drastiese veranderinge aan hulle leefstyl maak. Dit is op sigself nie maklik om sulke veranderinge te maak nie en verg baie werk na binne, maar volgens Suret word mense dikwels onkant gevang as die weerstand dan eintlik van buite af kom.

Hoekom sal ’n mens se binnekring dan nou vasskop en negatief reaggeer as jy gewig verloor of jou voorkoms verander?

Verbeel jouself: Jy dink al vir ’n geruime tyd daaraan om jou eetgewoontes te verander, meer te oefen of op te hou rook en drink. Jy doen reeds die eerste stap en sluit aan by die gym, gaan sien ’n voedingkundige of word deel van ’n ondersteuningsgroep. Wanneer jy met groot opgewondenheid die nuus met jou binnekring deel, word die wind uit jou seile geneem: Hulle is toe nie so opgewonde soos jy nie.

Daar is natuurlik baie uitdagings om beter leefstylkeuses toe te pas, maar dikwels is die grootste struikelblok die feit dat jou binnekring nie heeltemal aan boord is nie.

Gelukkig is daar baie maniere om hulle in jou goeie gewoontes te betrek!

Onthou: Voordat jy self die verandering kon maak, het daar waarskynlik ’n reeks dinge gebeur wat daartoe gelei het. Iemand het dalk die saadjie geplant of jy het tot ’n groot besef gekom. Jy het reeds hieroor nagedink en jou vrese in die gesig gestaar; jou binnekring móét nog!

Die reaksies kan wissel van ontkenning en skeptisisme tot jaloesie, maar dikwels kom dit op die volgende neer:

  • Vrees: “Wat sou gebeur as jy verander en ek nie meer goed genoeg is vir jou nie?”
  • Vrees: “Sê nou maar jou nuwe gewoontes forseer my om my eie slegte gewoontes te konfronteer en te verander?”
  • Vrees: “Sê nou maar jy veroordeel my as ek nie ook verander nie?”
  • Vrees: “Sê nou maar jou nuwe gewoontes daag my waardes of denkwyses uit?”
  • Vrees: “Wat sou gebeur as ek nie met jou nuwe leefstyl kan byhou nie?”

Wanneer jy veranderinge vir jou gesondheid maak, sal jy natuurlik ook jou gesin in jou goeie gewoontes wil betrek. Dis immers baie makliker om nuwe gewoontes volhoubaar te volg as hulle jou ondersteun en aanvaar. Maar wanneer jy weerstand kry, volg konflik en verwyte en raak dit aansienlik moeiliker om jou nuwe oortuigings ten volle uit te leef.

Is daar ’n maklike oplossing of geheime antwoord? Ongelukkig nie, maar hier is my wenke vir volhoubare verandering:

 

1. Betrek hulle met die intreeslag

Mense is bang vir verandering omdat dit buite hulle beheer is. Daarom sal dit help indien jy so vroeg as moontlik jou nuwe denkwyse of plan aan hulle bekendstel. Bespreek jou behoeftes en redes vir die verandering met hulle en verduidelik waarom dit vir jou belangrik is. Wees geduldig en betrek hulle by jou besluitnemingsproses. Nooi hulle dan om jou aanspreeklik te hou – maak hulle jou accountability buddies, maar moenie met die intreeslag van hulle verwag om aktief deel te neem nie. Wees bedag op jou stemtoon en die wyse waarop jy oor die nuwe gewoontes praat, sodat hulle nie voel jy veroordeel hulle indien hulle gewoontes nie met joune ooreenstem nie.

 

2. Moenie alleenlik op jou binnekring staatmaak nie

Dit help om uit te reik na iemand buite jou binnekring, veral wanneer die weerstand oorweldigend is. Plaas jouself doelbewus in ’n “veilige plek”: Word deel van ’n ondersteuningsgroep of gemeenskap mense wat ’n soortgelyke doel het. Deel jou reis met iemand wat jou nuwe denkwyses of veranderinge ondersteun en moet hulle nie by enige struwelinge met jou binnekring betrek nie. Daar is baie aanlyn groepe en ook fisiese klubs of geleenthede waar jy betekenisvolle interaksies met ander gemotiveerde en ondersteunende mense kan geniet. Gebruik die platforms tot jou voordeel en kies met wie jy wil assosieer!

 

3. Wees volhardend en nie opdringerig nie

Wil jy gesonder eet of meer oefen, maar jou gesin of vriende stel net nie belang nie? Die laaste ding wat jy moet doen is om opdringerig te wees. Om volhardend te wees beteken dat jy geleenthede skep vir hulle om ook deel van jou reis te word. Volharding beteken om jou keuse (vir jouself) uit te leef en só ’n voorbeeld te stel. Wees realisties wat jou verwagtinge betref en vra hulle om jou die geleentheid te gee om jou ding te doen. Moenie toelaat dat hulle kritiek jou demotiveer nie. Besef dat jy dalk ’n te groot versoek aan hulle stel: As julle tot nou toe elke Vrydagaand sáám gemorskos geëet en tot laataand gedrink het, gaan hulle moontlik bedreig voel as jou nuwe keuses hulle slegte gewoontes ontbloot of ou gerieflike roetines in gedrang bring. Stel ’n voorbeeld en wees bereid om hulle te help as hulle dalk later self sou besluit om die verandering te maak.

 

Die binnekring is aan boord! Ondersteun hulle behoeftes só:

  • Deel jou ervaring en dit wat vir jou gewerk het (of nie), maar moenie verwag dat hulle noodwendig dieselfde metodes gaan volg nie.
  • Betrek hulle deur uitdagings te stel. Laat die kinders toe om saam met jou te kook, of gesels oor die naweek met jou kêrel oor die week se spyskaart. Vra hulle om gunstelingdisse te noem en vind dan ’n gesonde middeweg. Maak oefening deel van ’n gesinsuitstappie oor die naweek. Beplan ‘n aktiewe vakansie en nooi hulle om byvoorbeeld saam met jou die Camino-staptog te doen. Ek het 280km ver in Portugal en Spanje gestap! 5 lesse wat ek geleer het.

Daar is baie ander maniere om jou gesin in jou goeie gewoontes te betrek. Verandering vind dikwels nie oornag plaas nie en verg harde werk, geduld en toewyding. Herhaling is die geheim en kort voor lank sal jy die vrugte van jou harde werk begin pluk.

Share: