Ek het 280km ver in Portugal en Spanje gestap! 5 lesse wat ek geleer het

Het jy geweet dat mediese dokters in Skotland nou amptelik “tyd in die natuur” as terapie kan voorskryf? Ek kan getuig van die voordele! My onlangse reis na Portugal en Spanje het wondere vir my liggaam en siel gedoen.

Tyd in die natuur kan jou bloeddruk verlaag en klaarblyklik help dit ook met angstigheid (kan ek asseblief ‘n langtermyn-voorskrif kry?). Die natuur is ’n uitstekende teenmiddel vir agressie, ADHS en fisieke pyn. Vars lug versterk glo selfs jou imuunstelsel … die voordele hou nie op nie.

Geen wonder een van die huidige #gesondheidstrends wat jy sal teëkom – bekend as “forest bathing” – is besig om al hoe meer gewild te raak nie. Daar is weer onlangs bewys dat so min as 90 minute per dag in ‘n woud of bos groot voordele dra. Dit verlaag die aktiwiteitsvlakke in die areas van jou brein waar depressie floreer! Amazing.

My staptog na Santiago in Spanje was die ideale geleentheid om hierdie teorieë te beproef en ek het grotendeels besluit om die uitdaging aan te pak omdat dit een groot avontuur saam met my bestie was.

Ek is terug huis toe met letsels van die blase tussen my tone, ’n lelike sonbril-tan, fermer bene en ’n nuutgevonde waardering vir my eie bed. Die stories, kameraadskap en vriendskappe wat ek gebou het oortref egter die feit dat baie mense dit doen om “hulself te vind”.

Tog kry mens baie kans om te dink en is dit amper onmoontlik om nie tot enige waardevolle beseffings te kom nie. Die Camino bied jou ’n luuksheid om harde dinkwerk te doen en terselfdertyd ook net in jou “niks-boks” te verkeer.

 

Hier is my vyf groot Camino-lesse om te onthou:

 

1. Ouderdom is ’n relatiewe begrip

Ek is jonk en aktief en was gewillig om my gemak vir ’n avontuur te verruil, maar as ek vooraf geweet het wat die Camino-stap gaan behels, het ek dalk kop uitgetrek. Die gidsboeke waarsku jou nie teen die talle heuwels wat op jou wag nie!

Ek was absoluut stomgeslaan deur die aantal bejaardes (dis nou mense ouer as aftree-ouderdom) wat die reis meegemaak het.

Dit het my laat besef dat ek tot baie meer fisiek in staat is en dat my denke rondom ouderdom en gesondheid my beperk en net voortydig sal laat oud word.

2. Laat vaar jou liggaamlike hangups

Benewens die publieke storte en ou ooms in wit onties by die herberge, het ek besef dat veral ons Suid-Afrikaanse vroue onnodig selfbewus oor ons lywe is. In Galicia het ons op die strand baljaar waar vroue van verskillende ouderdomme en liggaamsgroottes in die kleinste baaibroekies en selfs sonder bikinitoppies rondgeloop het.

Die pelgrimstog dwing jou om jouself grimering- en filtervry aan vreemdelinge te ontbloot. Die mooi en die lelik kom na vore en daar is fisies en metafories geen wegkruipplek nie. Ek het ook besluit om nooit weer vir my voete te vertel hulle is lelik nie. Hulle het my immers oor berge, grasvelde, ongemaklike keisteenpaadjies, in stede en deur twee lande gedra!

 

3. Die natuur is die beste medisyne

Om werklik af te skakel is ‘n konsep waarmee baie van ons worstel. Ons leef in ‘n wêreld waar ons “besig bly” met vooruitgang en sukses assosieer. Rustig wees, stadig opstaan en spirituele stiltetyd word opsy gesit en dis eers wanneer jy jouself uit jou alledaagse omgewing onttrek wat jy besef hóé belangrik dit is.

Die woude veral, en die Spaanse kus was hoogtepunte op my reis. Daar is niks beter as vars lug en oefening om perspektief op die lewe te kry en jou kop oop te maak nie. Ek het ‘n nuwe waardering vir die waarde van stap as oefening gekry.

Die Portugese Camino bied boonop talle geleenthede vir reisigers om ongerepte plekke te verken waar geen begeleide toer of reisgids jou sal neem nie. My volgende uitdaging is om die Kumano Kodo-pelgrimsroete in Japan te stap en die Sjinto-Boeddhiste se heilige woude te verken.

 

4. Die reis is belangriker as die bestemming

Enige pelgrimstog sal mens dwing om eksistensiële vrae te vra: Wie is ek, wat maak ek hier, wat is die doel van my lewe en hoe kan ek ’n beter mens wees? Tog het ek besef dat daar geen doel is om té diep in jou eie gedagtes en onsekerhede verstrengel te raak nie.

Die reis is in baie opsigte ’n metafoor vir die lewe en dwing jou om werklik in die oomblik teenwoordig te wees. As ons tog net meer gereeld kan stop en besef dat die sin van die lewe nie veel meer is as om bloot in die oomblik te leef nie!

 

5. Die mens is nie ’n eiland nie

Die grootste geskenk wat die Camino-stap vir elke pelgrim bied, is vriendskap. Ja, dis ’n cliché, om goeie rede.

Die aard van die pelgrimstog ontsluit ’n spesiale verhouding tussen die aardse en die heilige, tussen die individu en gemeenskap, en daarom word jou lewe op een of ander geheimsinnige manier getransformeer.

Ek vind soveel aanklank by die konsep van die pelgrimsreis as feesviering, en dit was ’n ongelooflike ervaring om deel te wees van ’n groep mense wat uiteindelik dieselfde eenvoudige doel gehad het: om die eindbestemming te haal en dit in die proses te geniet.

Langs die pad het ons nie net saam oor moeilike dinge nagedink, ons pyn gedeel en saam getreur nie; ons het saam gelag, die eenvoudige dinge waardeer en ongelooflike dinge buite ons gewone verwysingsraamwerke beleef.


Só het ek gestap:

Portugal

Dag 1: Porto tot by Vila Chá (29km)

Dag 2: Vila Chá tot by São Pedro de Rates (20km)

Dag 3: São Pedro de Rates tot by Tamel (25km)

Dag 4: Tamel tot by Ponta de Lima (25km)

Dag 5: Ponta de Lima tot by Fervença (30km)

Spanje

Dag 6: Fervença tot by Tui, (13km)

Dag 7: Tui tot by Mos (22km)

Dag 8: Mos tot by Pontevedra (29km)

Dag 9: Pontevedra tot by Armenteira (25km)

Dag 10: Armenteira tot by Vila Nova de Arousa (24km)

Dag 11: Vila Nova de Arousa tot by Padron (3km stap en 2-ure bootrit)

Dag 12: Pádron tot by Santiago de Compostela (24km)

 

Praktiese wenke:

  • Pak so lig as moontlik en beperk jou sak tot minder as 10% van jou liggaamsgewig. My rugsak het net minder as 7 kg geweeg en ek het niks onnodig saamgedra nie.Die minder-bekende Portugese roete is die moeite werd – verblyf en kos is ook boonop goedkoper as in Spanje. Portugal was loshande die wenner in my boekies.
  • Baie mense stap met die sentrale roete vanaf Pontevedra (Spanje) na Santiago. Bewys jouself ’n guns en neem die “Spiritual variant”-roete aan die kus van Galicia. Dit is besonder mooi en die seekos is uitmuntend!
  • Maak jou badgoed en medikasietassie minder. Daar is baie apteke langs die pad en ’n goeie voorraad pleisters is al wat jy werklik nodig het.
  • Al sit jou skoene hóé gemaklik, maak seker jy loop hulle ordentlik in.
  • Stapstokke is nie vir oumense nie. Jou heupe sal jou ewig dankbaar wees.

 

Share: