Een van my gunsteling weeklikse uitstappies behels ’n rit na die bombas (vulstasie) om vars kasjoeneute te koop. Ons verkies dit bo winkelneute, want dis volop en baie goedkoper! Jy sal omtrent R245 vir ’n kilogram betaal terwyl dit ongeveer R400 in Suid-Afrika sou kos.
VINNIGE FEITE
- ’n Gesonde boom lewer slegs 11 kg neute per jaar.
- Verlede jaar het ons ’n rekordoes van 137 400 ton neute gelewer.
- Mosambiek is die tweede grootste produseerder van kasjoeneute in Oos- en Suider-Afrika.
- Omtrent 40% van die land se plantasies is sedert die burgeroorlog (1992) en sikloon Naida (1994) vernietig.
Ek is alewig opsoek na lekker maniere om eiervrugte voor te berei. Kasjoeneute en eiervrug is ’n heerlike kombinasie, aangesien beide ’n romerige smaak het. Het jy geweet dat eiervrug (of aubergine) eintlik ook ’n vrug is? Alhoewel eiervrug nou nie in elke mens se smaak val nie, kan dit baie lekker wees – indien jy dit reg voorberei.
Ek gebruik altyd rou, ongesoute kasjoeneute en jong mediumgrootte eiervrugte (hoe ouer en hoe meer saadjies dit het, hoe meer bitter smaak dit). Koop jou eiervrugte as die vel ferm is. En ook, hoe swaarder die vrug, hoe beter.
Die beste manier om eiervrug gaar te maak is op ’n oop vuur of in ’n roosterpan (griddle pan). Daar is natuurlik verskeie metodes, maar hierdie resep is eenvoudig: Jy druk hulle net in die oond!
Om te sweet of nie?
Wie weet nou regtig of mens die eiervrug eers moet “sweet” of nie. My eksperimente het tog bewys dat dit help met die smaak en tekstuur, so ek raai jou aan om 30 minute opsy te sit en die voorbereiding te doen. As jy nie baie tyd het nie, sal jou dis nog steeds eetbaar wees! Maak dan net seker jy bedek die eiervrug deeglik met olie.
Eiervrug met chilli en kasjoeneute
Bestanddele
- 1 Eiervrug (medium tot groot)
- 50 g Kasjoeneute (lekker handvol)
- 2 t Chilli vlokkies (gedroog)
- 2 e Avokado-olie (of olie van jou keuse)
- Growwe sout
- Growwe peper
Instruksies
- Voorverhit oond tot 180 grade Celsius.
- Sny die eiervrug in dun skywe, sodat dit nie meer as ’n halwe sentimeter dik is nie.
- Plaas dit op ’n bakplaat – gebruik bakpapier of smeer die pan vooraf met kokosneutolie.
- Bedek liggies met sout (ek gebruik pienk sout) en laat die eiervrug vir minstens 20 minute sweet.
- Terwyl jy vir die eiervrug wag, meng die neute en chilli-vlokkies en maal dit fyn in ’n koffie-meul. Jy kan ook ’n stamper en vysel (pestle and mortar) gebruik.
- Gebruik kombuispapier om die eiervrug se vog op te droog.
- Strooi die chilli-neut-mengsel bo oor die skywe.
- Voeg sout en peper by volgens smaak.
- Bedek die eiervrugskywe liggies met genoeg avokado-olie.
- Bak in oond vir 20 minute.
- Bedien warm of koud.
Notas
As jy hierdie resep probeer, laat weet my! Tag jou foto met @kostelikblog op Facebook of Instagram.
Sal graag meer resepte soos die wil sien!!
Dankie, Liezel 🙂 Ek sal beslis nog resepte deel … veral lekker groentedisse!