Jou maklike gids tot geen plastiek

Ek wens daar was ’n maklike oplossing vir geen plastiek! Die maand is al weer amper verby en ek gaan jou nie verbaas met skokfeite oor plastiek en die verwoesting wat dit aan ons omgewing aanrig nie. Ons raak al hoe meer bewus van die omvang van die probleem. Die Plastic Free July-beweging het hierdie maand baie van ons laat regop sit, maar ek is bevrees ek weet nog steeds nie lekker hoe of waar om te begin nie. Die groepsdruk is definitief besig om te bou (dis hoog tyd!), maar ek is bevrees baie van ons sal met die nuwe kalendermaand weer in ons ou plastiekgewoontes verval. Is dit net té moeilik om plastiek te vermy? Of is ons te skaam om te erken dat die moeite nie vir ons die impak werd is nie?

 

Die waarheid oor plastiek

Daar is baie verskillende tipes plastiek en nie almal is ewe skadelik nie. Ek herhaal: Nie alle plastiek is ewe sleg vir jou gesondheid nie!

My uitgangspunt mag dalk ’n paar omgewingsaktiviste vies maak, maar my raad aan jou is om eerder te begin by die plastiek wat jou werklik kan siek maak. Niemand verwag dus van jou om elke stukkie plastiek uit jou huis te verwyder nie. As ons sulke drastiese stappe moes doen, blyk die enigste oplossing om in die bos in ’n bamboeshuis te gaan woon! (Maar ‘n bamboeshuis in die tropiese woude van Bali sou my miskien van plan laat verander …)

 


Enkelgebruik-plastiek verwoes die natuur en affekteer (moontlik) jou gesondheid

Ons is baie bewus van die plastiekprobleem in ons riviere en oseane. Benewens die feit dat hierdie plastiek ons diere versmoor, werk die mikroplastiekstukkies in die see soos klein sponsies. Dit absorbeer allerhande ander gifstowwe en vergiftig ook die diere wat dit eet. Alhoewel daar nog geen konkrete bewyse is van die direkte gesondheidsrisiko vir die mens nie (ons eet mos dan die vis wat die mikroplastiek geëet het), kan dit beslis nie goed vir ons gesondheid wees nie.

Die eintlike waarheid oor enkelgebruik-plastiek is dat dit ’n groter risiko vir die omgewing as die mens inhou. As jy wel reg is om jou plastiekgewoontes te verander, is daar maklike maniere om ’n groot verskil te maak. Begin by enkelgebruik-plastiek. Dit sluit winkelsakke, strooitjies, water- en koeldrankbotteltjies, plastiekborde, groenteverpakking en polistireen in.

Hier is my eenvoudige wenke om enkelgebruik-plastiek te vermy:

  • Begin met jou inkopiesakke. ’n Enkele sak kan tot 1 000 jaar neem om tot niet te gaan.
  • Belê in ’n staal- of bamboesstrooitjie. As jy nie werklik belangstel nie, drink jou koeldrank of melkskommel uit die glas soos ’n grootmens. Dit gaan nog steeds dieselfde proe.
  • Hou jou eie staal- (of bamboes-) eetgerei in jou handsak of kar en gebruik dit wanneer jy wegneemetes koop. Sit dit in ’n lapsakkie wat jy saam met dit kan was. ’n Mes en ’n vurk gaan nie jou skottelgoedlas swaarder maak nie.
  • Gebruik glas- of vlekvryestaal-waterbottels. Alhoewel die plastiekbottels nie werklik so sleg is vir jou gesondheid soos wat hulle sê nie, help jy die omgewing.
  • Koffiekoppies en -dekseltjies is sinloos! Gebruik jou eie fles. Baie koffiewinkels bied afslag indien jy jou eie beker bring.
  • Gebruik nylon- of netsakkies vir jou groente. ’n Pampoen, rooipeper of botterskorsie het werklik nie sy eie plastieksakkie nodig nie. Sit die plakker direk op die groente. Jy gaan dit mos in elk geval skil of goed was.

 

Plastiekhouers en BPA

As jy nie kans sien vir omgewingsvriendelike kospakkies nie, sit jou middagete in ’n glasbakkie (al het dit ’n plastiekdeksel). Deesdae is glasbakkies maklik by enige supermark bekombaar en dit is nie duurder as plastiekhouers nie. So help jy die omgewing, maar ook jouself, aangesien plastiekkosblikke wel ‘n risiko vir die mens dra. Dit bevat Bisfenol A (BPA), ’n chemiese middel wat plastiek hard en sterk maak. Daar is egter bewyse dat BPA ’n skadelike effek op jou homonone het. Dit verander ook die manier waarop jou liggaam sy vetselle bestuur en in stand hou.

Glas is veiliger om in die mikrogolfoond te gebruik en hou die kos langer vars. Maar wat van die plastiekdeksel en die BPA-gifstowwe wat dit bevat? Die glashouer is reeds ’n groot verbetering. As jy superversigtig wil wees en jou oor BPA bekommer, maak net seker die deksel raak nie aan die kos nie. Dis regtig hoe eenvoudig dit is!

 

Lees meer oor BPA, gifstowwe en hoe dit jou keer om gewig te verloor.
Share: