Piesangmeel-plaatkoekies [gluten- en suiwelvry]

Het jy al ooit iets ontdek wat só ongelooflik is dat jy dit nie met enigiemand wil deel nie? Gelukkig vir jou kan ek nie sommer ’n goeie geheim bewaar nie.

Sedert ek in Mosambiek woon, het ek ongelooflike eksotiese bestanddele ontdek:

Moringa
As jy ’n gesonsheidsfundi is, sal jy reeds moringa ken. Die meeste van ons ken dit slegs in poeiervorm, maar die Mosambiekers weet hoe om dié plant se ongelooflike voedingswaarde te ontgin: Hulle eet die blare, vrugte, blomme en ook die wortels!

Baobabpoeier

Nog ’n superkos. Die baobabvrug is ongelooflik ryk aan vitamien C, antioksidante, yster, kalium, kalsium en magnesium. Dit word by melkskommels, roomys of vrugtesap gevoeg en verskaf ’n heerlike sitrussmaak.

Kassavemeel

Ek sien onlangs al hoe meer gesondheidsblogs en resepte oor disse wat kassavemeel bevat. Die kassaveplant se wortel lyk soos ’n lang soetpatat en proe na ’n baie styselagtige aartappel (jy moet dit reg gaarmaak, anders is dit giftig). Dis een van die stapelvoedsels in Afrika en word nou ook in glutenvrye resepte (veral gebak) gebruik.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie sogenaamde superkosse al reeds eeue lank die boustene van ’n ander nasie se dieet vorm. Dis juis as gevolg van gesondheidsgiere en guerrillabemarking dat kosse soos quinoa onbekombaar duur geword het vir Jan Alleman in Peru en Bolivia, waar quinoa vandaan kom. Die Westerse aanvraag doen in hierdie opsig meer skade as goed!

Ek glo tog nie dat my ontdekking oornag ’n hipster-gier sal teweegbring nie. Maar ek wéét uit my ervaring met glutenvrye flaters dat ek hier iets beet het. Daarom sal ek my geheim met jou deel.

Hiermee die beste glutenvrye meel wat jy ooit sal teëkom: piesangmeel

Die meerderheid styselagtige vrugte en groente kan gedroog en fyngemaak word tot meel wat koringmeel kan vervang, maar hierdie een is baie spesiaal. Piesangmeel word gemaak van gedroogde groen piesangs en is supergesond. Dit is boonop redelik goedkoop in vergelyking met ander glutenvrye meel.

 

So lyk groen piesangmeel

Aangesien die meel uit groen piesangs gemaak word, bevat dit weerstandige stysel. Hierdie soort stysel neem langer om af te breek tot suiker, wat beteken dat dit ’n lae glukemiese waarde het. Piesangmeel is geskik vir mense wat aan diabetes ly, aangesien dit moontlik help om bloedsuikervlakke laag te hou.

Daarom is piesangmeel-plaatkoekies ’n uitstekende opsie vir ontbyt, aangesien dit jou liggaam sal help om jou bloedsuiker en eetlus in toom te hou.

Hierdie plaatkoekies sal jou langer vol hou en bevorder ook die groei van gesonde of goeie bakterieë in die dermkanaal. Dit bevat ook yster, vitamiene A, B en C en sink. Die meel het ’n ligter tekstuur as gewone koekmeel en jy kan met 25% minder regkom. Dit het nie ’n sterk piesangsmaak nie en kan ook net so met melk of ’n melkalternatief as pap op die stoof voorberei word.

VERNEEMDE VOORDELE

  • Hou jou dermkanaal gesond (verminder inflammasie en bevat prebiotika)
  • Kan met insulienweerstandigheid help
  • Kan moontlik met gewigsverlies help (nou het ek jou aandag!)
  • Kan cholesterol verlaag

Na heelwat navorsing kon ek tot die gevolgtrekking kom dat groen piesangmeel nie maklik in Suid-Afrika bekombaar is nie. Indien jy hierdie resep wil probeer, kan jy bloot die piesangmeel met enige ander glutenvrye meelmengsel vervang. Belangrik: Gebruik eerder ’n verpakte meelmengsel as om jou eie te maak, tensy jy baie ervare met glutenvrye samestellings is. Ek raai jou ook egter af om hierdie resep met gewone koekmeel te maak, aangesien die bestanddele heelwat aangepas is.

Wil jy bitter graag piesangmeel uit Mosambiek probeer? Ons kan ’n plan maak! Stuur vir my ’n e-pos by kostelik@chrizane.com.

DRUK

Piesangmeel-plaatkoekies

Hierdie piesangmeel-plaatkoekies is ’n uitstekende opsie vir ontbyt, aangesien dit jou liggaam sal help om jou bloedsuiker en eetlus in toom te hou.
Maaltyd Ontbyt
Kookstyl Europees, Glutenvry
Sleutelwoorde Glutenvry, Graanvry, Mosambieks, Suiwelvry
Voorbereidingstyd10 mins
Kooktyd15 mins
Totale Tyd25 mins

Bestanddele

  • ½ koppie piesangmeel
  • ½ koppie glutenvrye meelmengsel (bruinrysmeel werk ook)
  • 1 t koeksoda
  • 1 t kaneel
  • ½ t sout
  • 4 groot eiers
  • 2 e olyfolie
  • 2 t asyn (appelasyn of wit asyn)
  • 1 ½ t vanieljegeursel
  • 2 e heuning
  • Kokosneutolie vir gaarmaak

Instruksies

  • Plaas al die droë bestanddele in ’n groot mengbak.
  • Klits die nat bestanddele saam en voeg dit by die droë bestanddele.
  • Meng tot alles geïnkorporeer is.
  • Bak in ’n pan op ’n matige hitte. (Let wel: die plaatkoekies bak ongelooflik vinnig en word gou bruin.)

Notas

Die plaatkoekies is heerlik met enige soet of sout bykosse. Ons eet dit graag met piesang en grondboontjiebotter. Dit is ook heerlik met vrugte en jogurt (of kokosneutroom as jy suiwel vermy). Ek dink selfs spek en esdoringstroop (maple syrup) sal kan werk!

As jy hierdie resep probeer, laat weet my! Tag jou foto met @kostelikblog op Facebook of Instagram.

Share: