Plastiek, gifstowwe en jou gewig

As gewigsverlies eenvoudig oor minder eet en meer oefen gegaan het, het ons almal met meer entoesiasme aan ’n halwe hoenderborsie of vyf amandels gesmul. As dit tog net so maklik was!

Die probleem is egter meer kompleks en daar is verskeie ander faktore wat tot vetsug bydra. Ons weet dat stres en slaap ’n rol kan speel. Die afgelope 10 jaar is daar ook reeds genoegsame bewyse dat ons alledaagse en aanhoudende blootstelling aan laegraadse gifstowwe ook bydra tot probleme met gewigsverlies, maagvet, insulienweerstandigheid en diabetes. Hierdie gifstowwe is nie iets wat jou op slag gaan laat dood neerslaan of in die hospitaal gaan laat beland nie, maar jou grimering en badgoed, kombuisware en skoonmaakmiddels kan stadig maar seker tot jou vetstryd bydra!

Daar is meer as 84 000 verskillende chemiese middels in Amerika geregistreer, waarvan net 200 volledig vir veiligheid getoets is en net vyf uiteindelik verbied is! Die VN het ook onlangs ’n lang lys van 1 300 stowwe in kosmetiese middels verbied. Ek is nie seker watter beleid Suid-Afrika teenoor chemiese stowwe in huishoudelike of kosmetiese produkte het nie, maar ek twyfel dat ons ’n stappie vooruit is … Ons voer juis baie produkte van regoor die wêreld in.

 

Jou vetselle dra die las

Hoe kan chemiese stowwe dan tot gewigsprobleme bydra? Die eenvoudige antwoord is dat hierdie middels met jou hormone lol. Hulle verander die manier waarop jou liggaam sy vetselle bestuur en in stand hou. Hierdie stowwe staan bekend as obesogene en diabesogene. Hulle beïnvloed die hormone wat jou aptyt en metabolisme reguleer en kan selfs die vetselle in jou lyf vermeerder! Vetselle bied die perfekte skuiling vir vetoplosbare obesogene, m.a.w. jy kan dit nie eenvoudig deur urine uitskei nie. Hoe meer obesogene, hoe meer vet, hoe meer plek vir allerhande gifstowwe om op te hoop en weg te kruip.

  • Obesogene ontwrig jou endokriene stelsel en aktiveer die reseptors in jou liggaam wat vetselle maak.
  • Obesogene kan ontwikkelende beenselle in vetselle verander.
  • Obesogene is selfsugtig: Hulle vermeerder die vetsel se kapasiteit om nog gifstowwe vas te vang en terug te hou.
  • Obesogene veroorsaak ’n wanbalans in jou hormone wat jou honger- en versadig-seine beheer.

Daar is 20 verskillende tipes obesogene en BPA is een van die grootste sondebokke waarmee ons bekend is.

 

Wat is BPA en hoekom is almal so besorg daaroor?

Bisfenol A (BPA) is ’n chemiese middel wat plastiek hard en sterk maak. Dit kom in kosblikke, plastiekglase en waterbottels voor. (Nie alle plastiek bevat egter BPA nie!) Daar is ook meer as een tipe bisfenol en daarom moet jy bedag wees. Baie handelsmerke bemark hulle produkte as BPA-vry, maar dit bevat steeds Bisfenol S en Bisfenol F – daar is onlangs bewys dat hulle net so gevaarlik is! Maak dus altyd seker dat jou BPA-vrye plastiek ook nie die S- en F-duiweltjies bevat nie.

BPA kom meestal voor in:

  • Plastiekhouers soos kosblikke, glasies en Tupperware (dis belangrik om te weet dat die meeste plastiek estrogeen-ontwrigters lek, al bevat dit nie BPA nie).
  • Blikkieskos (veral blikkiestamaties)
  • Winkel- en ATM-strokies.

Winkelstrokies? Dis bisar maar waar! Die BPA in strokies is hoogs oplosbaar en daar is onlangse studies wat bewys dat kassiere se bloed uiters verhoogde BPA-vlakke bevat. Was altyd jou hande nadat jy strokies hanteer het en veral voordat jy eet!

 

Is my blootstelling aan BPA groot genoeg om werklik bekommerd te wees?

Toe BPA vir die eerste keer verbied is, was die fokus meestal op babaprodukte. Daar is bewys dat BPA ’n nadelige effek op die vroeë ontwikkeling van ’n fetus en baba het. Hoekom sal ons minder bekommerd wees oor volwassenes? Daar is reeds bewys dat kroniese laegraadse blootstelling in volwassenes kan bydra tot vrugbaarheidsprobleme, angstigheid, PCOS, borskanker, depressie en meer.

’n 2016-studie het bewys dat 93% van die mense in hul steekproef gevaarlike BPA-tellings in hul bloed gehad het.

 

Sal detoks help? 

Alhoewel ’n kos-detoks die perfekte geleentheid vir beter eet en gesonder gewoontes bied, is dit nie die mees effektiewe manier om van opgehoopte gifstowwe in jou liggaam ontslae te raak nie. Dit is dus sinloos om die pleister te vervang as jou liggaam nie die vermoë het om die ontsteekte wond van binne skoon te maak nie. Die oorsprong bly dus die kroniese blootstelling aan obesogene. Jou lewer, niere, kolon, vel en limf bly onder druk. Begin deur hierdie organe te ondersteun met volledige vitamienaanvullings, water, vesel en beweging. Eers wanneer jy die aanvullings gebruik, sal jou detoks-eetplan meer effektief begin werk.

 

Dit klink na baie werk

’n Gesonde dieet en gereelde oefening bly die twee grootste geheime tot gewigsverlies, maar ons kan nie langer die feit ignoreer dat ons langtermynblootstelling tot aan obesogene ook ’n rol speel nie. My bedoeling met hierdie artikel is glad nie om jou te laat skrik of te oorweldig nie. Ek skryf jou ook glad nie voor om drastiese stappe te neem en jou hele huis op een slag gifstofvry te maak nie (baie min mense kan dit regkry). Ek wil jou bloot bietjie uit daag om die mees-gevaarlike obesogene so ver as moontlik te vermy sodat jou liggaam ’n ligter las kan dra.

 

4 stappe om obesogene te vermy – selfs al wil jy nie gewig verloor nie:

  • Eet sover jy kan organies – indien nie, was jou groente en vrugte deeglik met asynwater.
  • Gebruik minder plastiek, veral enkel-gebruik plastiek.
  • Vermy blikkieskos.
  • Gebruik veiliger velsorgprodukte.
  • Filtreer jou drinkwater.
Lees meer: Jou maklike gids tot geen plastiek
Share: