Verbeter jou spysvertering met goeie (en goedkoop) gewoontes

Ek het in my vorige blog post gesels oor hardlywigheid en waarom elke tweede vrou ’n boksie Movicol in haar kombuis- of badkamerkassie wegsteek. Swak spysvertering (soos gas, sooibrand, diarieë en hardlywigheid) kan werklik jou lus vir die lewe steel. Die winkelrakke is van-die-vloer-tot-die-dak gepak met kruietee, pille en poeiers, maar daar bestaan ongelukkig nie ’n enkele wonderkuur vir beter spysvertering nie. Daar is egter baie maniere om jou spysverteringstelsel met goeie (en goedkoop) gewoontes te ondersteun.

Hier is my truuks wat niks met detoks-tee, ensiem-aanvullings of lakseermiddels te doen het nie:

 

Waar eet jy?

  • Eet in ’n positiewe omgewing en in goeie geselskap. Daar is genoeg bewyse dat jou gemoed ’n groot rol in spysvertering speel. Negatiewe emosies en spanningsvolle situasies affekteer die vloei van jou spysverteringsensieme, die pas waarteen jou maag kos na die dermkanaal beweeg, die tipe bakterieë wat daar voorkom en ook jou vermoeë om voedingstowwe te absorbeer.
  • Gebruik jou sintuie en wees meer bewus van jou omgewing. Ek glo vas dat ’n mooi tafel of goeie musiek werklik ’n verskil maak. Kies ’n spesiale plek in die huis of buite die kantoor waar jy doelbewustelik jou ete kan geniet. Jou reuksintuig speel ook ’n belangrike rol om die spysverteringproses af te skop. Dis hoekom jou mond water wanneer jy ’n vars baksel beskuit ruik of jou buurman se vleisie op die vuur jou maag laat grom. Smaak, reuk en selfs die gedagte van kos stimuleer jou speekselkliere en die vloei van verteringsappe.
  • Probeer ontspan voordat jy begin eet. Wanneer jy gespanne is, werk skop jou veg-of-vlug instinkte in. Dit veroorsaak dat jy baie meer of vinniger eet as wat jou spysverteringstelsel op die gegewe oomblik kan hanteer.Stres verminder die kwaliteit en hoeveelheid spysverteringsappe in jou maag en vertraag die beweging van jou klein ingewande. Wanneer jy met negatiewe emosies worstel of gespanne is, verander die kwaliteit van bakterieë in jou Dit affekteer ook jou vermoeë om van gifstowwe ontslae te raak.

 

Wanneer en hoekom eet jy?

  • Eet wanneer jy effens honger is – nie wanneer jy rasend honger is nie. Moenie onnodige druk op jou spysverteringstelsel plaas nie. Navorsing bewys dat jy baie minder geneig is om te ooreet wanneer jy na jou eerste hongerseine luister. “Hoe weet ek of ek honger is?” Jy moet (dalk weer van voor af) leer om jou liggaam se natuurlike hongerseine te herken. Word bewus van die effe of subtiele hongerkolletjie in jou maag. Dink so daaraan: Jou liggaam is soos ’n petroltenk. Jy wil nie waag om verder te ry as die petrolliggie eers aangaan nie. Dit is ook nie wys om te eet tot “jou tenk oorloop” nie. Hierdie is ’n subjektiewe proses – daar is nie ’n vaste reël nie – so wees bereid om meer bewustelik en eerlik teenoor jouself te wees.
  • Probeer om tydens middagete genoeg en gebalanseerd te eet. Vul die helfte van jou bord met nie-styselagtige groente (vars of gekook, nes jy verkies) en maak ’n hoofmaaltyd daarvan. ’n Groot of “swaar” ete voor bedtyd sal jou liggaam bloot laat harder werk om die kos te verteer. Moenie na 9 saans of voor bedtyd peusel nie.
  • Sit genoeg tyd opsy vir eet en rus na ete. Selfs 5 minute is genoeg. Jou liggaam het die natuurlike vermoeë om kos te verteer, mits jy hom kans gee. Deur rustig te sit en eet sal jy ook meer bewus kan wees van jou honger- en volseine. Gee jou liggaam kans om die maaltyd te herken, verwerk en sy verteringsprosesse te bewerkstellig.

Verbeter jou spysvertering met hierdie goeie gewoontes:

  • Begin elke maaltyd met ’n oomblik van dankbaarheid, stilte of gebed
  • Eet stadig en kou jou kos ordentlik voordat jy sluk
  • Moenie ’n gewoonte daarvan maak om by jou lessenaar of in jou kar te eet nie
  • Moenie eet as jy kwaad, angstig, ontsteld of oormoeg is nie
  • Maak ’n punt daarvan om die tekstuur,smaak en reuk van jou kos te geniet
  • Visualiseer hoe die kos deel van jou liggaam raak en jou voed
  • Luister na jou hongerseine en stop voordat jy oorversadig is

 

Praktiese wenke:

  • Drink twee of meer liter (verkieslik gefiltreerde) water per dag
  • Eet genoeg vesel (vars groente en vrugte)
  • Vermy geprosesseerde kos, suiker en verfynde meel
  • Vermy (of verminder) alkohol en kafeïne
  • Wees bewus van jou spysverteringskanaal se reaksie teenoor veral laktose, gluten en kafïene

 

Hoekom is ek alewig opgeblaas?

Babas en jong kinders het ongelooflike spysverteringsvermoeë wat ongelukkig met ouderdom verswak en dikwels tot bloating en gas lei. Ons is ook nie almal ewe geseënd met ’n oorvloed goeie spysverteringsappe en ensieme in ons dermkanale nie. Daar is moontlik verskeie ander redes waarom jy opgeblaas is: kosintoleransies, ’n hormonale wanbalans, oormaat slegte bakterieë in jou dermkanaal (SIBO) of ongewenste gifstowwe wat in jou liggaam ophoop. Een van die mees algemene probleme het eenvoudig te doen met fermentasie as gevolg van swak koskombinasies en die manier waarop jy sekere kossoorte met mekaar kombineer.

Moenie suikers saam met vette en proteïne in dieselfde maaltyd eet nie. Vette en proteïne begin alreeds in jou maag verteer (dit neem tot 3 ure). Suiker verteer eers in die dunderm (dit neem ongeveer slegs 30 minute), so wanneer jy dit saam met vette en proteïne eet, vorm dit ’n lekker deurmekaarspul. Die suiker bly dus langer in jou maag en fermenteer. Dit maak gas en so blaas jy op!

Voorbeelde van slegte koskombinasies:

  • Spek en stroop
  • Vleis met soet marinadesous
  • Lemoensap en bacon/eier ontbyt
  • Steak-pastei en gaskoeldrank
  • Vrugte en maaskaas
  1. Eet vrugte en drink vars vrugtesap 30 minute voor ete of 3 ure na ete (op ’n leë maag)
  2. Vermy soetgoed of nagereg na ’n proteïnryke ete
  3. Moenie jou kos afsluk met vloeistof nie (veral nie koeldrank of hoë-suiker drankies nie). Drink slegs water aan die einde van jou ete.

Hierdie wenke vereis dat jy wel bietjie moeite doen om nuwe en goeie gewoontes te kweek. Beter spysvertering is dikwels so eenvoudig as om een skakel in die ketting te herstel sodat die proses vlot kan verloop! Ek stel voor dat jy met ’n voedingkundige of dokter gesels indien jy kronies met spysverteringsprobleme sukkel.

Share: