Waaroor gaan Kostelik?

 

KOSTELIK is my aanlyn hoekie waar ek ’n realistiese, inklusiewe en positiewe boodskap met jou wil deel. Hierdie blog gaan nie vir jou kitsoplossings bied of jou help om binne 28 dae in twee broeknommers kleiner te pas nie.

 

Kostelik is ’n unieke platform waar ons op verskeie maniere gaan ondersoek wat werklike gesondheid behels. Met soveel teenstrydige inligting daar buite is dit al hoe moeiliker om die regte keuses vir jou gesondheid te maak. Die internet en media is deurtrek met onwaarhede ten spyte van die feit dat dit mooi verpak en met goeie bedoelinge opgedis word. Dieetgiere kom en gaan: Keto, Paleo, Intermittent Fasting, Plant-based, Banting en nog meer. Mediese studies stem net so veel met mekaar saam as wat hulle mekaar weerspreek, en ons soek steeds antwoorde op eenvoudige vrae (soos hoeveel eiers mag ek nou eintlik per week eet?).

Is jou koskwellinge dalk dieper gegrond in selfbeeldkwessies? Of ly jy aan ’n leefstylsiekte en weet nie hoe om beter koskeuses te maak nie? Jy is op die regte plek!

Met Kostelik wil ek ’n veilige hoekie skep waar ons eerlik kan wees, kan wegbreek van dieetkultuur en leer om ’n meer holistiese benadering toe te pas. Hier gaan jy leer om self die leisels te neem en deur klein veranderinge in jou lewe ’n groot verskil te maak. Kostelik is ’n versameling van goedvoelresepte, gesondheidswenke en filosofieë vir gewone mense.

Ek gaan jou uitdaag om jou denkwyses rondom kos en jou gesondheid te verander. Ek gaan jou bemagtig met inligting en praktiese wenke. Saam gaan ons op ’n reis om meer bewustelik te leef.

JY IS KOSTELIK

  • Jy is uniek en daarom is daar geen vooropgestelde plan of program wat uitsluitlik vir jou gaan werk nie.
  • Jy is waardig om ’n gesonde, vervulde lewe te geniet en goed te voel rondom kos en alles wat daarmee gepaard gaan.
  • Jy is pragtig en aantreklik nes jy is – jy hoef nie aan sekere standaarde te voldoen om selfversekerd te voel nie.
  • Jy is kosbaar en in beheer. Jy het nie ’n wonderwerk of ingryping nodig om jou gesondheidskwessies op te los nie.

Kostelik is nie uitsluitlik vir mense wat struikel of voel hulle sukkel nie. Dis ’n plek waar ons ook alledaagse uitdagings gaan aanpak en op ’n ongekompliseerde manier ons verhouding met kos en onsself gaan verbeter.

Kom reis saam!