Wenke vir hardlywigheid + WEN ’n groot boks Güdsheet toiletpapier!

Opelyf, stoelgang, drol, kak. Jammer tannie, dis tyd om oor poef te praat. Jy het hoogs waarskynlik al voorheen wenke vir hardlywigheid op Google nageslaan.

Afrikaans is darem ’n wonderlike, beskrywende taal! Jy sal ook waarskynlik saam met my stem dat die woord poef net té lekker oor die tong glip en op die oor val. Jou “nommer twee” behoort met net soveel gemak en bevrediging in die toilet te beland.

Ek is ernstig. Ons praat mos nie oor poef nie. Verál nie as jy ’n dame is nie. Die onderwerp is onderhewig aan ’n ongeskrewe reël waarvolgens slegs mans met trots oor hulle double flushers en troonbesoeke mag praat. Ek het egter eers as volwassene geleer waartoe my dermkanaal werklik in staat is. Soveel van julle het al via Instagram aan my erken dat julle nie seker is wat gereelde, genoeg of gemaklike eliminasie is nie. Dis hoog tyd dat ons die saak regstel.

 


Alles begin met spysvertering

Spysvertering is ’n natuurlike, transformerende proses wat ons té gereeld as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer laas het jy na jou bord kos gekyk en werklik besef dat dit elke sel in jou liggaam moet voed? Spysvertering is eintlik ’n ongelooflike en ingewikkelde proses wat ek eenvoudig so sal opsom: Jy neem rou materiaal uit die natuur (kos) en verwerk dit om jou liggaamselle die nodige energie en boublokke te verskaf om te kan funksioneer.

Dit wat in, moet ook weer uit.

Ek is seker jy verstaan wat eliminasie behels, maar verstaan jy werklik die belangrikheid daarvan om elke dag te poef? Wanneer jou liggaam die spysverteringsproses voltooi het, moet dit ontslae raak van plantvesel, bakterieë en ander ongewenste stowwe (in werklikheid gifstowwe). Sommige van hierdie gifstowwe is byvoorbeeld gemetaboliseerde hormone soos estrogeen wat weer in jou bloedsomloop kan beland, veral wanneer jy hardlywig is.

Gemaklike en gereelde stoelgang behoort dus jou eerste gesondheidsprioriteit te wees, aangesien dit ook soveel ander prosesse in jou liggaam beïnvloed.

 

Hoekom sukkel veral vroue met hardlywigheid?

Twee uit elke drie vroue is klaarblyklik hardlywig. (Vriendelike nota aan die mans: Dit het niks met ons persoonlikhede te doen nie.) Gaan snuffel gerus in jou vriendinne se medisynekassies. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel van hulle aandele in Movicol besit.

  • Ons maak nie ’n punt daarvan om op die toilet te gaan sit nie – ons is altyd besig om te multitask en ons daaglikse roetines is baie gejaag.
  • Al ooit gehoor van safe toilet syndrome? Die meeste van ons het al tydens ’n reis, in ’n publieke badkamer of in ’n nuwe verhouding met ’n skaam maag of “stage fright” te doen gekry. Ons is selfbewus en sal eerder knyp of terughou as om te sê “Liefie, moenie nou inkom nie, ek wil poef.”
  • Ons sal heel gou lakseermiddels (insluitend natuurlike middels) misbruik, veral wanneer ons nonsens-dieetprogramme en detokse volg. Dit maak ons dermkanale lui.
  • Ons bekkenspiere verswak wanneer ons babas kry. Feit. En het jy al van aambeie (haemorrhoids) gehoor? Dit is algemeen, veroorsaak ongelooflike pyn en vertraag die beweging wat tot hardlywigheid lei.
Lees ook:Verbeter jou spysvertering met goeie (en goedkoop) gewoontes

Hoe moet my poef lyk?

Omdat ek elke dag met dermdinge en voedingkunde te doen kry, is dit vir my nie ongewoon om vir iemand te vra “Hoe lyk jou poef?” nie. Die meeste van ons het nog nooit die verskillende variasies van stoelgange gesien nie en daarom weet baie vroue nie eers as hulle eintlik hardlywig is nie. Hardlywigheid is egter nie net die toestand waar jy sukkel om te gaan nie. Jy is ook hardlywig indien jou stoelgang gereeld korrelrig, hard, droog of gekompakteer is (al gly dit maklik).

Die Bristol Stool-kaart sal jou help om sin te maak van dit wat jou dermkanaal lewer:

 

  1. Hardlywig: Hard, korrelrig en moeilike beweging
  2. Hardlywig: Gekompakteerde korreltjies
  3. Ietwat hardlywig: Langwerpig met ligte krake/voue op die oppervlak
  4. Ideaal: Langwerpig, egalig en gemaklik
  5. Los: Sagte stukkies
  6. Diarree: Sagte en sponserige stukkies met skerp randjies
  7. Diarree: Waterig en vloeibaar (geen stukkies)

 

Hoe gereeld moet ek poef?

Jy behoort elke dag ’n gemaklike, gesonde nommer twee te maak (verwys na nommer 4 op die Bristol Stool-kaart). Tog beweeg sommige van ons se dermkanale teen ’n stadiger pas, en in hierdie geval glo ek in kwaliteit bo kwantiteit. Minder as twee gesonde stoelgange per week is ’n duidelike rooi vlag. Indien jy ongereeld is, is dit egter nie nodig om in ’n flat spin van bekommernis te beland nie. Gut health ghoeroes en gesondheidsmaatskappye plaas besonders baie klem daarop dat ’n perfekte 7 uit 7 die enigste standaard van ware gesondheid is. Fokus eers net op die samestelling van jou stoelgange en maak die klein veranderinge in jou dieet en leefstyl sodat jy stelselmatig daartoe werk om meer gereeld te gaan.

 

Wenke vir hardlywigheid:

 

1. Drink meer water

Jy behoort 30ml water te drink vir elke kilogram wat jy weeg. Bv. as jy 65kg weeg behoort jy minstens elke dag 1,9 liter water te drink. Sit ten minste nog 500ml water by jou daaglikse inname op die dae wat jy oefen of aktief is.

2. Eet meer groente

Iemand het jou reeds voorheen vertel dat jy meer vesel moet eet, maar het jy geweet dat so min as 1-2 koppies addisionele groente per dag ’n groot verskil aan jou stoelgang kan maak? Die geheim is egter dat jy ook jou vesel- en waterinname teenoor mekaar balanseer. As jy baie vesel eet maar té min water drink, kan jou hardlywigheid ook vererger. Kos wat hoog is in vesel sluit lensies, bessies, nie-styselagtige groente, fyn kokosneut, amandels en avokadopeer in. Ek gebruik ook chiasaad wat ek oornag in water of klappermelk week. Ek strooi ‘n eetlepel van die mengsel oor my hawermoutpap of sit dit in my smoothie.

3. Gebruik minder lakseermiddels

My beste wapen is egter psyllium husk. Wanneer ek veral hardlywig is, meng ek dit in my smoothies (1 eetlepel) of los dit in 300ml water op. Moet dit nie te lank laat staan nie, want jy sal sien dat dit glibberig raak (dis juis daarom great vir jou kolon). Psyllium husk is ’n uitstekende natuurlike “bulking agent” en nie ’n lakseermiddel nie. Jy kan jou lakseermiddel verminder soos wat jy daagliks geleidelik meer psyllium husk gebruik. Dit is egter baie belangrik om nóg meer water te drink aangesien psyllium husk hoogs absorberend is. Las minstens 3 glase (750ml) water by jou minimum daaglikse inname indien jy psyllium husk inneem.

Jou dermflora is natuurlik ook net so belangrik (meer hieroor in ’n volgende blogpost). Ek het ná talle probeerslae en ’n lang gesoek ’n uitstekende pre- en probiotikum gevind wat uitstekend werk. Kontak my indien jy meer wil weet hieroor.

4. Beweeg elke dag

Probeer jogastrekke, stap, swem of draf. Feitlik enige beweging help die dermbewegings aan. As jy onaktief is, kan so min as 20 minute se stap per dag wondere vir jou stoelgang verrig. Daar is oulike artikels aanlyn met maklike strekke spesifiek vir hardlywigheid – vra vir jou vriend Google.

5. Gaan sit op die toilet en vat jou tyd

Toe ek klein was, het my oupa altyd aangekondig dat ons hom nie mag pla as hy op Witbank kuier nie. Ek was altyd nuuskierig oor wat werklik daar gebeur. Deesdae maak ek werk daarvan om Witbank te besoek. Jou postuur wanneer jy op die toilet sit, kan ook beweging aanhelp en daarom lig ek my knieë ‘n bietjie sodat dit hoër as my heupe sit. Ek sit sommer met my voete bo-op die asdrommetjie of enige mandjie wat rondstaan. Die verandering in postuur maak vir my ’n groot verskil. Terloops, maak seker jy piepie eers voor jy jou knieë lig. Ek glo nie ek hoef verder te verduidelik watter risiko hierdie postuur in ’n vol-blaas-geval dra nie.

 

Maak ’n verskil met Güdsheet toiletpapier

Die groot lockdown-stormloop is gelukkig verby en tot almal se verbasing is daar toe genoeg toiletpapier vir almal. Daar is egter nietemin niks verkeerd daarmee om jou toiletpapiervoorraad ‘n bietjie aan te vul nie – juis omdat Güdco se ekovriendelike toiletpapier ’n verskil maak.

  • Beskerm die omgewing. Güdsheet is gemaak van 60% suikerrietvesel en 40% houtpulp (FSC-goedgekeur). Dit is plastiekvry, 100% bioafbreekbaar en veilig vir gebruik in ’n septiese tenk.
  • Beskerm jouself. Dit bevat geen nadelige bleikmiddels, parfuum of kleurmiddels nie.
  • Gee terug, vir Suid-Afrika. Jou aankope help Güdco om toilette te bou en toiletpapier aan minderbevoorregte skole te verskaf.
  • Ondersteun ’n klein besigheid. Jy kan verwag om so R1 per rol duurder as in die supermark te betaal (prys uitgewerk op 2-laag-enkelrol). Dit is egter ’n klein premie as jy weet jy beskerm die omgewing en ondersteun die goeie werk wat Güdsheet doen.

Kliek hier om aanlyn te bestel. Güdco lewer ook tydens lockdown af!

 

Wen ’n groot boks Güdsheet toiletpapier

  • Volg Kostelikblog en Güdco op Instagram
  • Deel hierdie artikel of mention ons in jou insta-stories

Belangrik: Jy moet ons tag om in aanmerking te kom. Deel gerus meer as een keer om ’n groter kans te staan om te wen. Die gelukkige wenner ontvang ’n groot boks van 48 rolle Güdsheet 2-laag toiletpapier (aflewering ingesluit).

Kompetisie sluit op 22 April 2020 en is beperk tot inwoners van Suid-Afrika.

Volg Güdco op Instagram, Facebook en Twitter

 

Share: