Wie is Chrizane

 

 

Hallo! My naam is Chrizane. Ek is mal oor kos en ek is lief vir Afrikaans. Ek dra ’n nommer 12-broek en ek kan nie ’n stuk donkersjokolade weerstaan nie. Ek hou van geselsies aanknoop en nuwe vriende maak.

 

Ek was die afgelope drie jaar op ’n ongelooflike reis. Ek het nie 20 kg verloor, ’n dodelike siekte oorwin of ’n perfekte selfbeeld gebou nie, maar ek het groot vordering met my gesondheid gemaak. Ek het moeilike lesse op die harde manier geleer en moes ’n paar ongemaklike waarhede konfronteer.

My gesindheid teenoor kos en my liggaam is steeds besig om te verander en ek is vasberade om my eie unieke prentjie van ware gesondheid te definieer. Ek wil jou uitdaag om deel te word van hierdie gemeenskap waar ons saam vooropgestelde idees, wanpersepsies en beperkinge rondom kos en gesondheid gaan konfronteer.

Hierdie blog is meer as net ’n versameling resepte en wenke vir ’n holistiese benadering. Dis ’n plek vir gewone mense, soos ek en jy. Hier gaan ek alledaagse uitdagings op ’n sinvolle manier aanpak en my persoonlike reis ook met jou deel. Ek het beslis nie al die antwoorde nie, maar ek gaan my bes probeer om jou tot beter keuses te inspireer.

Ek is opgewonde oor die era waarin ons leef. Ons het toegang tot ál die gesondheidshulpbronne wat ons harte kan begeer. Gesondheid is die nuwe gier. Met meer kosblogs as ooit tevore, apps wat jou menstruasiesiklus voorspel, gesonde kettingrestaurante en te veel georganiseerde sportgeleenthede om van te kies, raak dit al hoe moeiliker om verskonings te maak.

Daar is baie dinge in die gesondheidswêreld wat my bekommer, kwaad maak en frustreer. Nes jy dalk ook, worstel ek met die teenstrydige inligting wat om elke hoek en draai in ons rigting geslinger word. Die ironie van die saak is dat dieetkultuur en onwaarhede selfs ook met goeie bedoelings bedien word.

Ek is moeg vir onrealistiese beelde en standaarde wanneer dit by kos en my liggaam kom, en ek wil jou uitdaag om saam met my die regte invloede in jou lewe toe te laat. Ek weet dat ’n stuk kaaskoek minder voedingswaarde as ’n groen smoothie bevat en ek glo dat niemand van my kan verwag om ’n leeftyd sonder roomys, beskuit en pampoenkoekies te verduur nie.

Gesondheid gaan egter vir my nie oor gewigsverlies, ophou rook, minder gemorskos eet en drastiese oefening nie. Werklike gesondheid is 'n aanhoudende reeks leefstylkeuses waar selfversorging elke dag bo aan die agenda behoort te wees.

Hier gaan ek jou nie voorsê om kale te eet of jou kalorieë te tel nie. Ek gaan jou ook nie aanraai om honderde rande aan superkosse of bliss balls te spandeer nie. Ek gaan jou uitdaag om self te ontdek wat vir jou werk en wat nie. (As chia-saad jou ding is, is dit ook reg!)

Ek is baie bly dat jy hier beland het.

Gesels saam, stuur jou vrae, of laat weet sommer net hoe dit gaan!

    Jou naam (word vereis)

    Jou e-posadres (word vereis)

    Onderwerp

    Jou boodskap